Gedicht: Elisabeth Eybers • Eerste liefde

Eerste liefde

Ons liefde het gesterf met die oggendstond,
en ons het haar begrawe, bleek en stom;
teer lentegras en geurige voorjaarsgrond
bedek haar, sonder smuk van krans of blom.

Onthou jy haar?… Sy was so tingerig-fyn,
met vingers slank en lig, haar stem was sag,
en haar blou wonder-oë vreemd en rein.
Haar dood was vreedsaam, sonder rougeklag.

Ek mag nie om haar ween: haar stil vertrek
was beter as ’n kwynende bestaan
– maar, ag, ek wonder of jy ooit, soos ek,
’n oomblik by haar graf in mym’ring staan…

Elisabeth Eybers (1915-2007)

Foto: Leon Levson


Abonnees van Laurens Jz. Coster ontvangen iedere werkdag een gedicht per mail.