Dis nie myne nie, dit is nie joune nie

Door Joan Hambidge

’n Biografie oor ’n bekende persoon word vanuit ’n bepaalde blikhoek geskryf. Wanneer ’n mens ’n biografie oor Afrikaans aanpak, is dit ’n narratief waarin verskillende en dikwels teenstrydige stemme aangehoor word. Of selfs ongevraagde inligting uitgeblaker word.

’n Buitelandse akademikus het eenkeer opgemerk dat hy min tale ken waar mense so hittig en durend polemiseer oor die toekoms van ’n taal nie. (En die geskiedenis van die dubbele nie word ook in hierdie studies ondersoek.)

Wel, Afrikaans, Hebreeus en Maleisies (bahasa Melayu Malaysia) is drie tale wat binne ’n honderd jaar sigself gevestig het as wetenskaptale. Hindi en Faroëes het eweneens flink getransformeer. (In 1937 het lg. taal Deens vervang op eilande in taalonderrig. Die taal geniet amptelike status en weens ’n ryk letterkunde word dit nie bedreig deur die dominansie van Deens nie.)

Afrikaans het hier te lande letterlik van ’n kombuistaal tot Bybeltaal tot taal-van-die-onderdrukking tot taal van bevryding tot ’n taal wat mag uitsterf of verdwyn, beweeg.

Die geskiedenis van hierdie land is een van dwarsheid en opstand. Dieselfde geld die geskiedenis van Afrikaans wat sowel ’n Europese as ’n Afrika verlede het. Die invloede van Khoi, Arabies, en wat nog, is al deur menige taalkundige uitgewys. En diegene wat dink dis net die literatore wat sterk verskil en polemiseer, is verkeerd. Hier in die bakenboeke van Wannie Carstens en Edith Raidt sien ’n mens eweneens diepgaande verskille en ideologiese onmin oor presies wáár en hoé Afrikaans ontstaan het.

Aan die een kant is daar Hermann Giliomee, ’n kundige historikus, die Gelyke Kans-polemici wat standpunt inneem teen die US se taalbeleid en aan die ander kant akademici soos Hein Willemse van UP wat weer argumenteer dat Afrikaans nie aan wittes of wit sprekers behoort nie. Of die digter Antjie Krog wat daarop wys dat tale wel uitsterf. Of die komitee aan die Universiteit van Pretoria wat Afrikaans as voertaal “weggegee” het sof dit hulle reg was om dit te besluit namens ander, of hulle dit ooit besit het; aldus Dominique Botha, die skrywer van Valsrivier.

Die Universiteit van Pretoria se onderrigtaal is nou amptelik Engels. Die Vrije Universiteit in Amsterdam het Nederlands as ’n akademiese vak afgeskaf. In die globale wêreld is Engels die taal van kommunikasie en die voertaal, ofskoon verskeie instansies moedig terugveg. Princeton Universiteit neem standpunt in en spreek sigself ten gunste van die beskerming van minderheidstale uit en Coenie de Villiers se kragtige produksie van die laaste spreker van N|uu verdien vermelding. Dit heet Ouma Katrina: die dansende taal. (S. Shah & M. Brenzinger  se studie oor haar: Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu het in 2016 verskyn.)

Van Afrikaans gepraat (Christo van Rensburg, Lapa, 2018) vertel die storie van Afrikaans op ’n gemaklike, toeganklike manier asof hy ’n reisiger is. Hoe die Engelse in 1795 die Kaap ingeneem het en die mengelmoes van tale: Khoi, San, die invloed van Maleis-Portugees, Arabies, Nederlands, ensomeer, word behandel

Portugese woorde in onse taal soos bredie, tronk, kraal, tamaai, tjaal, koperkapel, muskiet …

En Khoi het vreemd opgeklink. Dalene Matthee skryf hieroor in Pieternella van die Kaap: die taal klink soos klippertjies wat diep in ’n kleipot skud, met stukkies voëltaal tussenin (23).

II

Carstens & Raidt se twee studies is belangrike werk wat gelees moet word saam met relevante tekste wat die afgelope tyd verskyn het. Die baken bly immer J.C. Steyn se Tuiste in eie taal. Met die sub-titel: Die behoud en bestaan van Afrikaans (1980).Wyle Christo van Rensburg se boeke oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans in So kry ons Afrikaans. En Michael le Cordeur (samesteller) se werk Ons kom van vêr. Dit is gesprekke oor bruinwees en Afrikaans. Daar is eweneens die insigryke Afrikaans ná Apartheid (red. VN Webb) wat in 1992 verskyn het. Die baanbrekerswerk van wyle Fritz Ponelis en al die woordeboekmakers is bekend. Die Afrikaans van die Kaapse Moslems deur Achmat Davids (verwerk deur Hein Willemse en Suleman Dangor en vertaal deur Danie C. Botha) verskyn in 2018.

Daar is eweneens rubriekskrywers wat die transformasie van die taal registreer, soos o.a. Gerhard van Huyssteen. Litnet plaas steeds akademiese artikels in Afrikaans in verskillende vakgebiede wat bewys daar is steeds navorsers in Afrikaans, al het Afrikaans as regstaal in ons howe verdwyn.

Die politiek oor Afrikaans, dat Afrikaans nie sal uitsterf nie omdat dit gepraat en gesing word, is egter ’n uiters naïewe en oningeligte standpunt. ’n Taal se hoër funksies moet beskerm en verdedig word. Die keiharde feite is egter dat die globalisering en anglisering van die wêreld sake dramaties verander het.

Die stroom van publikasies in Afrikaans gedy nog op die ou bestel en die sisteme van bevoorregting wat die posisie van Standaard-Afrikaans en die voorskryfmark gevestig het.

III

In Deel 1 is die fokus op die Europese verlede, terwyl Deel 2 fokus op die Afrika-geskiedenis.

Afrikaans het op drie kontinente ontwikkel: in Europa met Nederlands as basisvorm vir Afrikaans; in Afrika waar die 17e-eeuse Hollandse dialek onder die invloed van verskillende invloede, Afrikaans geword het; en in Asië met die invloed van die taal van slawe.

Afrikaans wat volgens sekere geleerdes ‘n semi-Kreoolse taal. Die invloed van nie-geskoolde Nederlands op Afrikaans word in Deel I onder die loep geneem.

Edith Raidt merk op dat Afrikaans die jongste en enigste Germaanse taal is wat in Afrika ontstaan het. Die taalkundige Ana Deumert, aan die Universiteit van Kaapstad, beweer dat Afrikaans veel langer geneem het om te ontwikkel as wat die meeste glo. Vir haar het die ontwikkeling van Afrikaans ongeveer 250 jaar lank geduur (439).

Vir die verskillende sieninge oor die ontstaan van Afrikaans en die polemieke hieroor word die leser van ‘n handige tabel voorsien (428 – 430). Dit word alles begrond met die siening dat die taalhistorikus met werklike, konkrete navorsing moet werk om ontwikkeling te kan bewys (427).  Die kreoliseringsdebat is in die sestigerjare weer gestimuleer deur die sosiolinguistiek waarvolgens die verhouding van ‘n taal en sy gemeenskap ondersoek word (431). Dit bewys, m.i. tog dat teoretiese ontwikkelinge ‘n nuwe lig kan werp op navorsing.

In die afdeling oor Nederlands word daar beweer dat Nederlanders ‘n sterk taaltrots het. Mense verkies om tegnologies in hul taal bedien te word. Nederlands het ‘n sterk kultuur van vertaling en wanneer ‘n belangrike teks elders verskyn, is die Nederlandse vertaling dadelik beskikbaar. Die dagboek van Anne Frank is die mees vertaalde Nederlandse boek en Harry Mulisch is in meer as 30 tale vertaal. Die Vlaming Hugo Claus is op sy beurt in sowat 20 tale vertaal.

Hoe gaan die invloed van “allochtone” (vreemdetaalsprekers) Nederlands raak? In Nederland, soos hier, is daar ook opvattings oor die taal soos dat Nederlands verengels; dat Nederlands bedreig word deur Europese eenwording en globalisering; dat Standaard-Nederlands kan “verdwyn”. Van Sterkenburg spreek hierdie vrese aan, wat sterk resoneer met vrese hier te lande (400 – 401).

Die boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans word ook aangespreek en diegene met ‘n goeie geheue sal onthou dat hierdie leser indertyd van mening was dat die Nederlanders ons versaak het. In daardie tyd, 1992 – en dit het wye reaksie ontlok – was my gevoel dat ons selfstandig ontwikkel het en ‘n aparte taal en kultuur gevestig het. (Dit was lank voor die dekoloniseringsdebatte hier te lande.)

Dit was ‘n akademiese, politieke en kulturele boikot en in 1984 is daar selfs Afrikaanse boeke uit die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) in ‘n grag gesmyt (404). “De overval” het groot skade aangerig en onvervangbare 18e- en 19e-eeuse werke het in die slag gebly.

Dit is egter so dat Nederlands – soos met enige boikot – sigself ook skade berokken het, omdat Nederlands stadig maar seker uit skoolleerplanne verdwyn het. As jong student aan die Universiteit van Stellenbosch moes ons Nederlandse grammatika bestudeer en was ons blootgestel aan belangrike Nederlandse tekste, gedoseer deur mense, soos wyle W.E.G. Louw, wat die taal perfek kon skryf en praat. Boonop het ons die jongste uitvoerprodukte van transgressiewe tekste uit Amsterdam eerstehands ervaar.

Die venster op Europa (vir ons) en die venster op Afrika (vir hulle) is dus toegeklap. Dis eers die afgelope twee dekades wat die herstel van bande weer plaasvind en die siening van Afrikaans as “fluistertaal” of “skaamtaal”, opgehef word. Nederlands is vir jong studente vandag moeilik, omdat hulle nie van jongs af aan die taal blootgestel is nie.

Straattaal (‘n vermenging van Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo, ‘n taal wat gepraat word in Suriname, asook Papiamento (die taal van Curacao, Aruba en Bonaire) word egter in die algemeen deur Nederlanders afgekeur, aldus die studie in Deel I (377).

Die hoofstuk oor die ontstaan van Afrikaans – en die rol van taalverandering is eweneens boeiend.

Ons vind onder andere Hans du Plessis se opmerking dat in 1652 het die Nederlanders en Khoi ‘n gemors van Nederlands gemaak en daardie gemors se naam is Afrikaans (425).

Taalbeïnvloeding, taalkontak, taalversteuring en taalvermenging, is uiters insigryk. Soos Du Plessis se opmerking – in navolging van Trudgill – dat Afrikaans ‘n kreolied is, maar nooit ‘n pidgin was nie (434).

Die invloed van Khoi op Afrikaans (danksy die studies van die groot navorser J. du P. Scholtz) word gesien veral in geografiese benamings en by plant- en diername voor, soos: Goudini, Hantam, Kamdebo, Karoo, Koup. Plantname: Boegoe, dagga, kanna, kambro, ganna, ghaap, noem-noem, norretjie, ens. Diername: Koedoe, kwagga, ghnoe, gogga, oorbietjie, noemetjie. Ander: Abba, aitsa, arrie, eina, hoeka, kamma/kamtig, karos, kierie.

Afrikaans is in Mei 1925 erken as amptelike taal. In 1933 verskyn die volledig vertaalde Bybel in Afrikaans en in 1937 die eerste Afrikaanse gesangbundel. ‘n Lang pad van die GRA (1875) tot Afrikaans as amptelike taal. Besonder relevant is die werk van ons ouer Afrikaanse digters (soos Marais, Totius en Leipoldt) wat steeds bakens binne die Afrikaanse digkuns bly.

Hierdie skrywer (en leser) verkies die ou Bybelvertaling bó die on-poëtiese moderne vertaling. Gee my die dankpsalms in daardie oue, gewyde taal en soos ’n hert in dorre streke.

IV

Toe ’n voormalige dekaan my onlangs vra oor hoe die Afrikaanse departement deelneem aan “dekolonisering” was my antwoord: ons doen dit al vir 300 jaar lank. Ons het ’n eie taal, ’n letterkunde en ons doseer nie net Standaard-Afrikaanse tekste nie, maar ook Karibiese letterkunde. En Nederlands het ons weer teruggebring vir jong studente aan die UK. ’n Besoek van Adriaan van Dis is deur die studente geniet.

In Deel 2 word die geskiedenis van ons land onder die loep geneem. Uiteraard is die historiese aspek van enige land of kultuurgroep problematies en die verskillende standpunte oor Afrikaans aktiveer verskillende sieninge oor Afrikaans as ’n taal van uitsluiting versus ’n meer inklusiewe benadering en ’n uitwys van historiese vergissinge. O.a. Christo van Rensburg wat vra was die Kaap regtig Hollands? En hoe verander die sosiale veranderinge tans ons siening oor waar Afrikaans werklik begin het? Die invloed van apartheid op Afrikaans (en die persepsies tans) het die siening oor Afrikaans uiteraard beïnvloed. Die geskiedenis bewys egter dat Afrikaans nie net ’n “wit” taal of ’n taal van die onderdrukker is nie. Waarskynlik is die grootste probleem dat die meeste mense wat deelneem aan die debat bittermin gelees het oor Afrikaans en haar ontstaansgeskiedenis.

Die tabelle oor die afskaling van Afrikaans aan universiteite is tersaaklik vir die debat (774 – 776). Die kwessie van meertaligheid word bespreek en veral die politieke verskille oor taal aan die Universiteit van Stellenbosch word ’n soort toetssaak. Met ’n verwysing na Anton van Niekerk, ’n professor in Filosofie, se opmerking dat jong studente nie iets vir Afrikaans voel nie (779). Enige taaldosent sal hierdie stelling (ongelukkig moet) onderskryf: studente voel nie emosioneel oor “ons” taalverlede nie. Ander mag weer voel dat Afrikaans se uitsluiting (of onsigbaarheid in klaskamers) ’n keuse vir Engels beteken. En dat meertalige woordjies in ’n klas blote versiersuiker is. (Hiersie skrywer is wel ten gunste van meertaligheid. Hoe dit prakties in klasse toegepas kan word met ’n kurrikulum wat veeleisend is, blyk onseker te wees.)

Feit bly staan: universiteite in Suid-Afrika moet gehoor gee aan die feit dat ons in Afrika is en ook mense uit ander lande wat nie-Afrikaanse sprekers is, moet akkommodeer sonder die verlies van inheemse tale. Hierom het Engels die toevlugtaal geword (om ’n term van Van Rensburg te gebruik).

In hierdie studie word  aan bekende persoonlikhede buite die Afrikaner-binnekring ook erkenning gegee (920). Jakes Gerwel se invloed op Mandela is bekend. Hy het Afrikaanse tekste deurgegee en Gerwel se werk oor Karel Schoeman is steeds tersaaklik.

Die bekende stelling dat die geskiedenis uit die hoek van die oorwinnaar geskryf word, hou beslis nie rekening nie met die werklikheid dat verskillende blikhoeke al vir etlike dekades in die Afrikaanse letterkunde beskryf word nie. Vele stemme word aangehoor en gelees. En in Band 2 word daar geweldig baie gedoen om aan hierdie stilgemaakte stemme van eens erkenning te gee.

Oor die toekoms?

En soos Christo van Rensburg beklemtoon: entoesiasme van ons luister na liedjies in Afrikaans en reis na familie in verre lande wat Afrikaans praat, is emosionele uitsprake. Niks meer nie.

Te veel respondente het die ketel aan die tuit beet, by wyse van spreke.

Miskien het dit die hoogste tyd geword om eerder weer te kyk na ’n hiërargie van ingeligtheid? Soos om eerder te luister na Tom Maclachlan of Rufus Gouws?

In beide studies van Carstens & Raidt is daar voetnote en endnote vir bewyse en verdere navorsing.

In hierdie tyd waar minderheidstale en Afrikaans se regte verander het na vóórregte.

Afrikaans akkommodeer tans vele sprekers en skrywers: van Kaaps tot Standaard-Afrikaans; van sms-taal tot rymkletsers. Van Dorslandtrekkers tot Dwarstrekkers. Van Afrikaans in die Bo-Kaap tot by die Oranje- en Kunenerivier. Van Griekwa-Afrikaans (met Hans du Plessis se lieflike herdigtings) tot moderne digters.

Die ongelukkige relaiteit is dat Afrikaanse sprekers en skrywers die invloed van apartheid steeds beleef rondom die toekoms van die taal en in taaldebatte.

Wat ’n jammerte – die geskiedenis wys juis groter geskakeerde prentjie uit dat Afrikaans behoort het aan vele sprekers.

Al hierdie boeke is van belang vir enige persoon wat wil deelneem aan die gesprek oor Afrikaans. Dit getuig van enorme navorsing en is belangrike bakens in ons taaldebat.

Nou ja, so lank as die kind in die tjalie lê, dan praat hy net soos jy! En dat Tito Mboweni die Universiteit van Pretoria moes aanspreek oor die verlies aan inheemse tale, moet opgeteken word.

WAM Carstens & EH Raidt – Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal. Protea Boekhuis, 2017 en 2019. Bestelinformatie bij de website van dit boek

Christo van Rensburg – Van Afrikaans gepraat. Lapa, 2018. Bestelinformatie bij de uitgever.