Pas verschenen: Die storie van Afrikaans (deel 1)

Door Wannie Carstens

Daar het sedert 2000 ʼn opvallende oplewing gekom in studies oor die geskiedenis van Afrikaans. Van hierdie publikasies was gefokus op die toekoms van Afrikaans eerder as die verlede, maar dit het nietemin aangedui mense wil meer weet as die gewone storie. Boeke soos Giliomee & Schlemmer (reds.) se KruispadDie toekoms van Afrikaans as openbare taal (2001), F.I.J. van Rensburg (red.) se Afrikaans, lewende taal van miljoene (2004), Giliomee & Schlemmer se ʼn Vaste plek vir Afrikaans. Taaluitdagings op kampus (2006), Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans (2012), Hein Grebe se Op die keper beskou. Oor die ontstaan van Afrikaans (2012) en ook Jaap Steyn se bekroonde ‘Ons gaan ʼn taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014) is tekenend hiervan en dui ook op ʼn lewendige belangstelling in die herkoms én toekoms van Afrikaans. Dit is ook goed so dat die Afrikaanse gemeenskap belang stel in hulle taal.

Die bogenoemde boeke betrek wel slegs besondere aspekte van die studie van Afrikaans – die toekoms, die invloed van die Khoi op die ontwikkeling van Afrikaans, die tydperk 1870-2010, teorieë oor die herkoms van Afrikaans, en so meer. 

Ons boek gaan ʼn bietjie verder, omdat ons Afrikaans probeer plaas in die konteks van alle tale in die wêreld (onder die 120 grootste tale uit 7 099 tale). In hierdie proses gaan ons ver terug in die verlede en kyk ons wat Afrikaans se verwantskap met ander tale (deur ʼn studie van taalfamilies) in die wêreld is, Afrikaans se Indo-Europese verlede en hoe dit via Nederlands se geskiedenis (Oud-Nederlands Middelnederlands, Nieu-Nederlands) ontvou het in Europa, hoe die taal van die Hollanders in die 16de/17de eeu oorgeplant is aan die Kaap, hoe hierdie taalvorm deur talle ander tale (van Afrika-, Asiatiese en Europese herkoms) beïnvloed is, hoe die nuwe taalvorm mettertyd sy eie vorm en struktuur gekry het, hoe die taal se ontwikkeling geraak is deur die mense wat dit gepraat het, wat daartoe gelei het dat die taal amptelike status gekry het, hoe die taal se funksies gevestig is, en hoe politiek Afrikaans in die 20ste en 21ste eeu geraak het.

Ons probeer dus die groot prentjie trek van wat daartoe gelei het dat ons vandag steeds die taal Afrikaans praat. En die storie / verhaal word toegelig aan die hand van illustrasies van die tekste (geskrewe produkte) wat bewys hoe Afrikaans stadigaan ontvou het – en daar is ʼn magdom! Ons probeer dus ʼn breër invalshoek as die ander bronne en ons hoop dat dit slaag. Die wyer hoek het dan ook daartoe gelei dat die storie in twee dele ontvou het – die Europese verlede van Afrikaans (deel 1, wat pas gepubliseer is) en Die geskiedenis van Afrikaans in Afrikaans (deel 2, wat tans in die afrondfase is en waarskynlik teen Augustus/ September 2018 sal verskyn). Ons glo dus dat Afrikaans se wortel teruggaan op die Nederlandse verlede, maar ons toon ook duidelik aan die invloede (ander tale, normale taalverandering, oorlog, politiek) wat alles daartoe gelei het dat ʼn nuwetaal (nie Nederlands nie) in Afrika volwassenheid bereik het en uiteindelik as ʼn amptelike taal erken is in 1925. Hierdie taal se verbintenis met Afrika word bevestig deur die taal se unieke naam – genoem na die kontinent waar dit ontwikkel het: Afrikaans.

Wannie Carstens en E.H. Raidt. Die storie van Afrikaans. Uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal. Pretoria: Protea Boekhuis, 2017. Die boek is te koop by boekwinkels in SA of via www.proteaboekhuis.co.za in harde kopie of as e-boek. Prys: R450.

Dit bericht is geplaatst in pas verschenen met de tags , . Bookmark de permalink.