Wie is de baas over de taal?

Door Wannie Carstens

Wannie Carstens is hoogleraar Afrikaanse taalkunde en lid van de Afrikaanse Taalraad. Hij zal vanaf nu regelmatig in zijn moedertaal bijdragen aan Neder-L.

Op 15 Junie vanjaar was daar in Leiden ‘n publieke simposium wat georganiseer is deur die Leiden University Centre for Linguistics (LUCL) van die Universiteit Leiden. Hierdie simposium is aangebied in die bekende Academiegebou op die Rapenburg in Leiden.  Die organiseerders van die byeenkoms was proff. Jaap de Jong en Marc van Oostendorp, beide verbonde aan LUCL. Die simposium is besonder goed bygewoon en die saal was vol. En dit op ‘n Saterdagmiddag! Die kwessie van taal is duidelik van groot belang vir Nederlanders en dit is ook goed so. Die aanwesiges het volgens wat ek kon waarneem, uit ‘n groot verskeidenheid velde gekom: akademici, onderwysers (leraars), studente, belangstellende lede van die publiek.

Die sprekers het ook uit ‘n verskeidenheid vertrekpunte gekom:
Jan Renkema uit Tilburg (die skrywer van die hoogs suksesvolle taalgids Schrijfwijzer), Joop van der Horst uit Leuven (die skrywer van Het einde van de standaardtaal), Ingrid Tieken-Boon van Ostade (akademikus van Leiden), Jeroen Widenhof (van Leiden), Ilja Leonard Pfeijfer (van die buiteland) en ook Geert Joris (die nuwe hoof van die Nederlandse Taalunie). Uit hierdie oorde het daar vanselfsprekend ‘n hele aantal gesigspunte na vore gekom, nie almal ooreenstemmend nie. Dit is ook goed so, want oor ’n onderwerp soos ‘wie die baas van die taal is’, sal daar onvermydelik ’n verskil van mening wees.

Die vraag of daar wel ‘n baas van die taal is, is moeilik om te beantwoord. Wie sal die verantwoordelikheid opneem om die taal vir hom/haar op te eis? Is dit hoegenaamd moontlik om dit te doen? Is dit net een persoon wat die ‘baas’ sal wees, of andersins dan ‘n ‘groep’? Wie is hierdie persoon of persone?
Ons almal weet daar is so ‘n groot verskeidenheid sprekers van ‘n taal dat dit bykans onmoontlik is om selfs ooreen te kom oor wat die neutrale vorm van kommunikasie, d.w.s. die standaardvariëteit van ’n taal (soos van Nederlands of Afrikaans), is. Selfs daaroor verskil taalkundiges heftig. Joop van der Horst is selfs van mening dat die standaardvariëteite van tale nie meer lank nodig sal wees nie.
Ek gee graag my eie standpunt hier weer oor hoe ek die saak sien en spesifiek met betrekking tot Afrikaans. Die publiek, d.w.s. die taalgebruikers, soek die een of ander vorm van ‘leiding’ as hulle die taal skryf. Anders sou daar nie reeds meer as 450 000 kopieë van Schrijfwijzer in Nederland en Vlaandere verkoop het nie as daar nie ‘n behoefte was nie. Daar is ook ooreenstemmende bronne in Afrikaans beskikbaar, soos my eie Norme vir Afrikaans (2011, 5de uitgawe) waarvan reeds meer as 45 000 verkoop het.  Die aanvraag is dus daar.
Die vraag word so dikwels gestel wat die basis is vir die skryfleiding in hierdie en ander boeke oor skryfhulp. Dit kom voor asof daar na taalkundiges gekyk word om hier die leiding te gee. Dit is waarskynlik ’n verantwoordelikheid wat sommige taalkundiges nie sal wil dra nie! Wat taalkundiges wel doen, is om op basis van hulle waarneming oor die gebruik van die taal te beskryf (deskripsie) hoe die tipiese patrone van die taal daaruit sien.
Taalkundiges is naamlik gewoonlik opgeleide persone.  Hierdie persoon, of dikwels persone (want instansies neem ook soms die leiding, soos die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns rakende die Afrikaanse spelling wat gereflekteer word in die Afrikaanse woordelys en spelreëls), durf nie lukraak oordele vel en op grond van onder andere persoonlike voorkeur ’n gebruiksreël vestig nie. Hierdie persoon (persone) moet juis op grond van opleiding (oor hoe die taal diachronies ontwikkel het en sinchronies gebruik word) en ervaring (oor hoe die taal in werklikheid gebruik word) die patrone beoordeel en dan ’n uitspraak maak (wat dan preskriptief gebruik kan word). Dit is dus duidelik nie die taak van enige taalgebruiker om te sê “só word die taal gebruik” nie, maar eerder van persone wat wéét hoe die taal werk, wat weet hoe veranderinge weerspieël word en dan op basis daarvan die bestaande gebruikspatroon aandui.
Vanselfsprekend bly hierdie vorme nie altyd dieselfde nie, want sprekersgemeenskappe verander voortdurend volgens generasies. Patrone as sodanig sal daarom ook verander, want taal is en bly dinamies. Die verskil tussen deskripsie en preskripsie is daarom eenvoudig: persone wat deskriptief te werk gaan, sê hoe taal gebruik word (gebaseer op empiriese kontrole) en persone wat preskriptief te werk gaan, sê hoe taal gebruik behoortte word.
Maak hierdie manier van doen die taalkundiges nou die ‘baas van die taal’? By verre nie omdat taalkundiges primêr ’n waarnemersrol vertolk en derhalwe adviserend optree. Wie is dan die baas van die taal? Waarskynlik die gebruikers van die taal self. Die verantwoordelikheid vir hulp en leiding word bloot gedelegeer aan diegene wat in staat is om hierdie leiding te kan gee.
Ek hoor graag hoe ander persone die saak sien en ek word ook graag reggewys as ek verkeerd dink.