Wat ek vandag wil kom loop staan vertel

Deur Jana Luther

In Neerlandistiek.nl het Marc van Oostendorp gister, onder meer, geskryf oor Nederlandse sinne soos die volgende:

  • Hij zit zich vreselijk op te winden.
    (Hy sit hom vreeslik en opwen.)
  • Ik zit me al weken te vervelen op Vlieland.
    (Ek sit my al weke op Vlieland en verveel.)

Wat is die vernaamste verskil tussen dié Nederlandse en Afrikaanse sinne?

In Nederlands verbind werkwoorde wat beweging aandui (“loop”, “staan”, “sit”, “lê”, ens.), soms met ’n infinitief om dan as hulpwerkwoorde op te tree:

  • Ik liep te kijken (loop te kyk).
  • Zij staat te praten (staan te praat).
  • Zij zitten te lezen (sit te lees).
  • Hij ligt te slapen (lê te slaap).

In die standaardvariëteit van Afrikaans kom sulke konstruksies nie dikwels voor nie, alhoewel Ernst Kotzé tog soortgelyke voorbeelde gaan haal uit Kaapse Afrikaans:

  • Dan staan jy daar te tjank (staat te janken).
  • Daar sit ek te praat met hulle (staat te praten).

In die plek van die Nederlandse konstruksies met “te” het Afrikaans naamlik ’n ander vorm, wat verbale hendiadis heet:

hendiadis s.nw.
Weergawe van ’n enkele begrip deurdat twee soortgelyke woorde neweskikkend verbind word.  Uit Nederlands via Latyn hendiadys; gevorm van Grieks hen ‘een’, dia ‘deur’ en dis ‘twee maal’; uit Grieks hendiaduoin, met duoin uit duo ‘twee’. Met ander woorde: ‘een deur middel van twee’.

Byvoorbeeld:

  • Ek staan en wag.

’n Konstruksie wat in Middelnederlands terug te vind is:

Middelnederlands
Ic sta ende wacht.
Hi sat ende at.
Hedendaagse Afrikaans
Ek staan en wag.
Hy sit en eet.
Hedendaagse Nederlands
Ik sta te wachten.
Hij zat te eten.

Van Afrikaans se verbale hendiadis lê die wortels dus, waarskynlik, in 17de eeuse Nederlands:

  • Hij stond en sliep.
    Hy het gestaan en slaap.

Maar in Afrikaans het hierdie konstruksie veel verder ontwikkel.

Onder verbale hendiadis in Afrikaans word verstaan ’n neweskikkende verbinding van twee werkwoorde deur middel van “en”, waarby die resulterende woordgroep dan tot ’n eenheid versmelt.

  • Ek loop en kyk. – Ek het geloop en kyk.
  • Sy staan en praat. – Sy het gestaan en praat.
  • Hulle sit en lees. – Hulle het gesit en lees.
  • Hy sit en slaap. – Hy het gesit en slaap.

In die sinne hier bo word die klem gedra deur die werkwoorde “kyk”, “praat”, “lees” en “slaap”. Van die vier sinne maak dié vier woorde die kern uit. En in al vier gevalle kan die verlede tyd ook sonder “ge-“ gevorm word:

  • Ek het loop en kyk.
  • Sy het staan en praat.
  • Hulle het sit en lees.
  • Hy het sit en slaap.

In hierdie voorbeelde beteken “loop”, “staan”, “sit” nog werklik ‘loop’, ‘staan’ en ‘sit’. Maar hulle verrig terselfdertyd ook die funksie van duratiewe werkwoorde, dit is werkwoorde wat ’n durende handeling aandui, dit wil sê ’n handeling wat voortduur – die handeling wat deur die tweede werkwoord (die semantiese kern van die woordgroep) aangedui word. In baie sulke woordgroepe verbleek die letterlike betekenis van die eerste, selfstandige werkwoord dan totdat net die durende aspek daarvan oorbly en dit bloot as hulpwerkwoord optree.

Vergelyk byvoorbeeld die man wat aan sy vrou sê (of omgekeerd):

  • Moet jy so vroeg in oggend met my staan en stry?

Vir hierdie stryery om plaas te vind, hoef nóg die aangesprokene nóg die spreker werklik op die been te wees; hy of sy, of hulle twee saam, kan aan die kombuistafel sit, of selfs nog in die bed lê. In die voorbeeldsin word “staan” bloot aangewend om die handeling van te wil stry, as feit te stel. En dis hoe verbale hendiadis meestal in Afrikaans gebruik word: met ’n inleidende werkwoord waarvan die letterlike betekenis verflou het.

Nog voorbeelde:

  • Hoekom lê jy so en hoes? Jy moenie nou staan en siek word nie.
  • Daar staan en ry hy al weer oor die sypaadjie!

Dis ook nie net die werkwoord wat verbleek nie. Ook die voegwoord raak sy funksie kwyt. In die sinne hier bo dien “en” slegs as oorgangsklank. Dit word onbeklemtoond uitgespreek en in gesproke taal dikwels weggelaat. Na analogie van …

  • Jy kan nie hier in die see gaan swem nie.

… hoor ’n mens dus ook:

  • Jy kan nie hier oor die sypaadjie staan ry nie.

En, dalk die interessantste: Nie net ’n enkele werkwoord hoef as hulpwerkwoord ingespan te word nie. Die getal werkwoorde wat die klemdraende kern voorafgaan, hoef ook nie tot twee, of selfs net drie beperk te bly nie.

Verbale hendiadis hoor ’n mens veral in informele, gesproke Afrikaans. Dis by uitstek geselstrant, waarin sprekers die gevoelswaarde van hulle sinne kan verhoog deur werkwoorde van beweging tot ’n hegte, subjektiewe (modale) eenheid saam te voeg in die volgorde waarin die handeling plaasvind, of waarin dit waargeneem of aangevoel word.

In korpusse van die Virtuele Instituut vir Afrikaans vind ’n mens van hierdie soort konstruksies voorbeelde soos die volgende:

Drie …

  • Melk loop staan en raak mos suur.
  • Ek, wat ’n vingerlit loop staan en verloor het.
  • Ek sal graag ’n keer of wat saam jou onder jou boom kom loop sit.
  • Sy raak bekommerd dat sy hart gaan loop staan.
  • Sy gaan klim in die bed, maar die slaap wyk en ná ’n ruk gaan staan sit sy in die stoel voor die venster.

Vier …

  • Ek gaan nie lat my verlede my nou hier kom loop staan en inhaal nie.
  • Maar dan wil hulle vir ons kom loop staan en vertel van geloof soos ’n mosterdsaadjie …
  • Hoekom het sy ma gaan loop staan overdose?
  • En dan nog [iemand] kom loop staan dreig
  • Hoe kan jy verwag dat ek hier op die plaas kom loop staan juig
  • Gaan loop staan soek nou vir Oerknoep op Google Maps en jy kry die melding: “Ons kon Oerknoep nie kry nie.”

Wie maak dit vyf?

Dit artikel verscheen eerder op VIVA (Virtuele instituut vir Afrikaans).

Dit bericht is geplaatst in column met de tags , . Bookmark de permalink.

2 reacties op Wat ek vandag wil kom loop staan vertel

  1. Bert Mostert schreef:

    Een waterlandsche Trijn sat eens ajuyn en
    schelde

  2. Bert Mostert schreef:

    De vorige reactie had ik te snel geplaatst. Daarin staat een citaat van Cats dat door de leraar Nederlands werd gebruikt als voorbeeld van de hendiadys in onze taal, ongetwijfeld ontleend aan Lodewick.

Reacties zijn gesloten.