By die deur uit met agtersetsels

Door Suléne Pilon

Marc van Oostendorp skryf onlangs op Neerlandistiek dat agtersetsels en rondomsetsels naas voorsetsels in Afrikaans, soos ook in Nederlands die geval is, voorkom. Ponelis (1979: 176 – 177) lys ook ʼn aantal voorbeelde van wat hy as Afrikaanse agtersetsels beskou. Dit is egter nie ʼn uitgemaakte saak dat agtersetsels en/of rondomsetsels wel in Afrikaans gebruik word nie, aangesien die voorbeelde wat Van Oostendorp en Ponelis as agtersetsels/rondomsetsels beskou, myns insiens anders geanaliseer behoort te word. Ek sit vervolgens kortliks uiteen waarom ek nie met Van Oostendorp saamstem nie en sluit af met enkele opmerkings oor die Ponelisvoorbeelde.

Afrikaans maak van verskeie soorte konstruksies gebruik om ruimtelike (en by uitbreiding ook temporele) posisie aan te dui. Prototipies word bywoorde en setsels daarvoor gebruik. Dit is nie maklik om setsels en bywoorde van mekaar te onderskei nie. Omdat hierdie woordsoortkategorieë so baie oorvleuel wat vorm en betekenis betref, is daar al aangedui dat dit nie optimaal is om te probeer om woorde streng tussen hierdie kategorieë te verdeel nie (Langacker 2008: 177). Daar is selfs al voorgestel dat setsels en bywoorde een woordsoortkategorie behoort te wees (Mackenzie 2001). (Aangesien sommige adjektiewe vormlik identies aan bywoorde is, word adjektiewe ook deur byvoorbeeld Langacker (2008) bygevoeg in die groep van woorde wat oorvleuel wat vorm en funksie betref. Vir die doeleindes van hierdie blog word adjektiewe egter buite rekening gelaat.)

Volgens Van Rooy (2017) vertoon die bywoordkategorie nie ʼn sterk eenheidskarakter nie, wat natuurlik ook bydra tot die kategoriseringsprobleem, en moet bywoorde hoofsaaklik op grond van hul sintaktiese rol geïdentifiseer word. Setsels kan verder verdeel word in voorsetsels, agtersetsels en rondomsetsels (dit word kortliks hier onder beskryf). Setsels kan, soos hier bo genoem, net soos bywoorde lyk en stem baie met bywoorde ooreen wat betekenis betref. Die onderskeid tussen setsels en bywoorde word in Afrikaans verder gekompliseer deur werkwoordpartikels wat vormlik identies kan wees aan setsels/bywoorde, maar wat funksioneer as deel van ʼn geskeide skeibare werkwoord. Vergelyk byvoorbeeld (1) – (3.1) waar in onderskeidelik ʼn voorsetsel, bywoord en werkwoordpartikel is. (Die onderstaande voorbeelde is, tensy anders vermeld, óf geneem uit Van Oostendorp se artikel, óf is aangepaste weergawes van voorbeelde wat hy gebruik.)

1. Die kat is in die kombuis.(My voorbeeld)

2. Die huis staan tussen die twee winkels in. (Voorbeeld uit HAT6)

3.1. Hy loop by die deur in.

Daar is egter riglyne wat gebruik kan word om hierdie woordsoorte van mekaar te onderskei. Die maklikste een om uit te ken, is die werkwoordpartikel. Werkwoorde kan net skeibaar wees in die teenwoordige tyd; die verledetydvorm van hierdie werkwoorde is altyd onskeibaar en word daarom altyd vas geskryf. Dit is uit (3.3) en (3.4) duidelik dat in in (3.1) en (3.2) ʼn werkwoordpartikel is en nié ʼn agtersetsel of ʼn bywoord nie, aangesien in aan geloop vas geskryf moet word in die verlede tyd. Dit is ook hoekom Van Oostendorp se voorbeelde *Hy het geloop by die deur in en *Hy het geloop die deur in foutief is in Afrikaans – die in is in albei gevalle nie ʼn agtersetsel wat los van geloop kan funksioneer nie. Dit is ʼn werkwoordpartikel wat aan die werkwoord vas geskryf moet word in die verlede tyd.

ʼn Sinstuk is ʼn “woordgroep wat as eenheid in sinne optree, en sentreer rondom ʼn kernelement wat die stuk sy naam gee” (Van Rooy 2017). ʼn Setselstuk bestaan in Afrikaans prototipies uit ʼn voorsetsel en ʼn naamwoordstukkomplement (met ʼn naamwoord as kernelement), maar sou ook uit ʼn agtersetsel of rondomsetsel en naamwoordstukkomplement kon bestaan. As in in (3.1) ʼn setsel is, beteken dit dat by … in ʼn rondomsetsel is en dat die setselstuk in hierdie geval by die huis in moet wees. Aangesien ʼn vereiste van ʼn sinstuk is dat dit as eenheid moet optree, moet die hele setselstuk saam skuif wanneer dit in ʼn sin rondgeskuif word. Wanneer die setselstuk in (3.1) egter vooropgestel word soos in (3.2), skuif in nié saam na die voorkant van die sin toe nie. Dit is daarom duidelik dat die setselstuk in (3.1) net bestaan uit by die huis en dat in nie ʼn setsel is wat deel is van die setselstuk *by die huis in nie.

3.2. ?By die deur loop die man in.

3.3. Die man het by die deur ingeloop.

3.4. ?By die huis het die man ingeloop.

Dit los dus die problematiese onversoenbaarheid wat Van Oostendorp identifiseer tussen (4.1) – (4.4) op. Voorbeeld (4.3) kan as (4.4) omgestel word omdat na die swembad ʼn setselgroep is met na as voorsetsel en die swembad as naamwoordstukkomplement. Daarenteen is in in (4.1) en (4.2) ʼn werkwoordpartikel wat in (4.1) korrek aan die verledetydwerkwoord geloop vas geskryf word, maar wat in (4.2) verkeerdelik van die verledetydwerkwoord geskei word.

4.1. Hy het (by) die deur ingeloop. [Van Oostendorp skryf verkeerdelik *Hy het die deur in geloop.]

4.2. *Hy het geloop (by) die deur in.

4.3. Hy het na die swembad geloop.

4.4. Hy het geloop na die swembad.

ʼn Belangrike onderskeid tussen setsels en bywoorde is die feit dat bywoorde byna altyd ʼn opsionele element van die sin is wat daarom buigsaam is wat sintaktiese gedrag betref (Van Rooy 2017). Daarteenoor neem ʼn setsel altyd ʼn naamwoordstuk as komplement. ʼn Voorsetsel staan verpligtend direk voor sy naamwoordkomplement, ʼn agtersetsel staan verpligtend direk ná sy naamwoordkomplement en ʼn rondomsetsel staan verpligtend rondom, met ander woorde voor en ná, sy naamwoordkomplement. Setsels is dus nié sintakties buigsaam nie. Gegewe die feit dat (5.1) en (5.2) betekenisgewys identies aan mekaar is, kan toe in (5.1) as opsionele element beskou word. Toe behoort daarom eerder as bywoord, en nie as agtersetsel nie, gekategoriseer te word.

5.1. Hulle het na die swembad toe gehardloop.

5.2 Hulle het na die swembad gehardloop.

Van Oostendorp identifiseer dus geen voorbeelde van agtersetsels of rondomsetsels in Afrikaans nie. Ponelis (1979: 176 – 177) identifiseer egter verskeie verdere voorbeelde van wat hy as agtersetsels beskou. Sommige van hierdie voorbeelde bevat duidelik eerder bywoorde as setsels. Vergelyk byvoorbeeld (6.1) waar deur ʼn bywoord is wat met ʼn ander bywoord soos lank (soos in (6.2)) vervang kan word. Ander van Ponelis se voorbeelde verdien egter om verder ondersoek te word.

6.1. Ek het my lewe deur perd gery. (Ponelisvoorbeeld)

6.2. Ek het my lewe lank perd gery. (Variant van Ponelis se voorbeeld)

7.1. Moenie jou heil buite God om probeer vind nie. (Ponelisvoorbeeld)

7.2. Moenie jou heil buiteom God probeer vind nie. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

8. Hulle verstandhouding het oor die jare heen inniger geword. (Ponelisvoorbeeld)

9.1. Dit is oor die hele wêreld bekend. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

9.2. Dit is bekend oor die hele wêreld. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

9.3. Dit is bekend die hele wêreld oor. (Omstelling van Ponelis se voorbeeld)

Uit (7.1) en (8) blyk dit dat die saamgestelde setsels buiteom en oorheen skeibaar is en in spesifieke kontekste rondom hul naamwoordkomplemente kan voorkom. Dit word ondersteun deur die feit dat (7.1) as (7.2) omgestel kan word. Dit is onduidelik of hierdie setsels onder hierdie omstandighede as rondomsetsels gekategoriseer behoort te word, maar om in (7.1) en heen in (8) kan definitief nie as agtersetsels beskou word nie. Wat (9.3) betref, is dit belangrik om eers te noem dat woordvolgorde in alle tale, en dus ook in Afrikaans, verander of aangepas kan word ter wille van poëtiese trefkrag of om nadruk te plaas op sekere elemente in die sin. In (3.2) en (3.4) word die vooropstelling van die setselstuk by die huis byvoorbeeld gebruik om die plek van die gebeurtenis te beklemtoon. In plaas daarvan om oor in (9.3) as agtersetsel te beskou, sou (9.3), net soos (9.2), as ʼn poëtiese omstelling van (9.1) beskou kon word. Die feit dat die setselstuk oor die hele wêreld om poëtiese redes omgestel kan word as die hele wêreld oor maak nie noodwendig van oor in die laasgenoemde setselstuk ʼn agtersetsel nie.

Daar is dus nog heelwat navorsing wat oor Afrikaanse setsels gedoen moet word. Skynbaar skeibare Afrikaanse setsels, soos in (7.1) en (8), behoort ondersoek te word en vergelyk te word met rondomsetsels in tale soos Koerdies om te bepaal of dié Afrikaanse setsels as rondomsetsels gekategoriseer behoort te word. Afrikaanse setsels wat ná hul naamwoordkomplemente voorkom, soos in (9.3), moet ondersoek word en vergelyk word met agtersetsels in onder andere Hindi en Japannees om vas te stel of dit waarlik agtersetels is. Tot tyd en wyl is ek egter nie oortuig dat agtersetsels en rondomsetsels naas voorsetsels in Afrikaans aangewend kan word om ruimtelike en temporele posisie aan te dui nie.

Aangehaalde bronne

Mackenzie, J.L., 2001. Adverbs and adpositions: the Cinderella categories of Functional Grammar. Revista Canaria de Estudios Ingleses, 42, pp.119-135.

Langacker, R.W., 2008. Cognitive grammar: A basic introduction. New York: Oxford University Press.

Luther, J., Pfeiffer, F. & Gouws, R.H. (reds.). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.

Ponelis, F.A., 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Van Rooy, A.J. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In Carstens, W.A.M.C. & Bosman, N. (reds.). Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. 2e Uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Dit artikel verscheen eerder op VIVA

Dit bericht is geplaatst in column met de tags , , , . Bookmark de permalink.