Afrikaans kom van vêr af

Door Michael le Cordeur

unnamedDaar heers ’n groot debat in Suid-Afrika oor die toekoms van Afrikaans as onderwystaal. In hierdie debat word daar dikwels vinger gewys na bruin mense en veral bruin leiers oor hul “stilswye” in die debat.

Die punt word veral gestel dat bruin mense die grootste komponent uitmaak van die totale Afrikaanssprekende gemeenskap.

Omdat ek nog altyd van mening was dat bogenoemde ’n aanvegbare stelling is, het ek en Wannie Carstens reeds in 2015 begin praat oor ’n gedenkboek opgedra aan prof. Adam Small met die tema: Die bydrae van bruin sprekers van Afrikaans tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal.

Ek het talle skrywers uit hoofsaaklik die bruin gemeenskap genader om betrokke te raak. Die reaksie uit die bruin gemeenskap het ons wildste drome oortref en ons moes streng keuring toepas om die boek tot 36 hoofstukke te beperk.

Die plan was om die boek vandag, dit is die dag van prof. Small se 80ste verjaardag, bekend te stel. Small het sy seën op die projek geplaas.

Ongelukkig het die Hoër Hand ingegryp en prof. Small is op 24 Junie van ons weggeneem. Maar die skrywers – en sy weduwee Rosalie – was vasbeslote om prof. Small se nalatenskap te eer.

Uiteindelik het 35 skrywers, akademici en gemeenskapsleiers van byna elke sfeer van die samelewing hulle tot die projek verbind, wat deur die SA Akademie, Die Het Jan Marais Nasionale Fonds, die Hiemstra Trust, die SBA, die ATKV en Kunstekaap ondersteun is.

Die bydraes in hierdie omvattende werk van 600 bladsye val in tien kategorieë uiteen:

Selwyn Milborrow se gedig “Kô lat ôs ere bring aan Adam Small” is ’n gepaste manier om die boek te open en nog ’n talentvolle digter, Gaireyah Fredericks, se gedig rond die boek af. Small se weduwee, dr. Rosalie Small, bied in haar hoofstuk “Wie is Adam Small?” ’n blik op die lewe van die man vir wie almal lief was, maar nooit geken het nie.

Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening.

Christo van der Rheede verduidelik hoe Afrikaans die bruin gemeenskap ekonomiese kan bemagtig.

In die afdeling “Godsdiens en die Kerk” beïndruk Jacques Beukes met ’n boeiende narratief oor die Belydenis van Belhar. Reggie Nel gee ’n postkoloniale beoordeling van die ontstaan van afsonderlike sendingkerke aan die Kaap en Raymond van Diemel verduidelik waarom Isak Morkel, die vader van die Calvyn Protestantse Kerk, sy rug op die NG Kerk gekeer het. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel hou bewyse voor dat Afrikaans nog altyd voertaal, kerktaal en strydtaal in die NG Sendingkerk was.

In die afdeling oor “Identiteit” redeneer Danny Titus dat Afrikaans vir te lank gesien is as ’n taal van ’n homogene (wit) kultuur terwyl bruin en swart sprekers se bydraes misken is. Patrick Mettler skryf dat bruin mense uitgestyg het ondanks die onreg van die verlede. Cornelius Thomas voer aan dat die genetiese smeltkroes saamgeval het met linguistiese en kulturele ontmoetings en Willa Boezak herinner almal dat daar “wetenskaplike bewyse [is] dat die Khoi-San die eerste inheemse nasie is van Suider-Afrika”.

Cecyl Esau se hartroerende verhaal oor die impak wat apartheid op sy lewe en sy aanhouding op Robbeneiland sal lesers aangryp en Le Cordeur skets hoe die 1976- en 1980-opstande byna sy lewe verwoes het. Edwena Goff, onthul die pyn wat die swart Mej. Suid-Afrika (eers genoem “Mej. Afrika-Suid” en later “Mej. Rapport”) moes deurmaak en Llewellyn MacMaster boekstaaf die rol van die Afrikaanssprekende UWK-tokkelokke in die bevrydingstryd.

In die afdeling “Sport en Kultuur” beskryf Charles Beukes hoe sport as ’n politieke wapen gebruik is teen die apartheidsregering. Michael le Cordeur onthul in twee bydraes twee van die besbewaarde kulturele geheime in Suid-Afrika.

Langarmmusiek is ’n dans of sportsoort eie aan bruin mense wat van die Kaapse Vlakte tot in Eersterust in Pretoria strek. Gavin Davis laat ons terugverlang na die dae van Jimmy Grans Six en Bobby Hendricks en hy herinner ons: “Bring your own XYZ”. By die lees van Elias P. Nel se bydrae oor hoe die rieldans as inheemse kultuurskat hervestig is, begin jou voete jeuk, want jy kannie helpie, jy’s gebore merrit.

Marlene le Roux herinner lesers daaraan dat teater voor 1994 nie toeganklik was vir die meerderheid Suid-Afrikaners nie en dat die Nico Malan-teater getransformeer moes word na ’n inklusiewe Kunstekaap. Die gemeenskapsteater van Robert J Pearce soos beskryf deur Johan Coetzer onthul hoe Pearce sonder finansiering hoop geskep het vir belowende kunstenaars deur die teater na townships soos Eersterust te neem.

Onderwys het nog ’n lang pad voordat leerlinge wat Kaaps praat, sal tuis voel in die Afrikaans-klas.

In die afdeling oor onderwys vertel Danie van Wyk hoe talle bruin leerlinge hul tuisdorp moes verlaat om hul studie in ’n ander dorp in ’n losieshuis voort te sit omdat die plaaslike hoërskool nie vir hulle beskore was nie. Archie Vergotine vertel hoe die KPO as verteenwoordiger van die Afrikaanssprekende bruin onderwysers vreesloos teen apartheid geveg het. John J.G. Diergaardt onthou die ondersteunende rol van matrieknasieners tydens studenteprotes om aan leerlinge wat by die struggle betrokke was, ’n tweede kans te gee. Basil May ondersoek die ondeurdagte sluiting van onderwyskolleges ná 1994 en wys daarop dat ’n groot onreg teen tersiêre onderwys gepleeg is.

In die afdeling oor die politiek ondersoek Cornelius Thomas die geskiedenis van die “Universiteit van die Werkersklas” (UWK) van 1960, toe Adam Small nog die enigste bruin dosent was, en hoe dit gegroei het van Bush College tot ’n wêreldklasuniversiteit. ’n Voormalige kollega van Adam Small aan die UWK, Basil Kivedo, bied ’n aangrypende vertelling oor hoe hy as ’n MK-soldaat sy gesin moes agterlaat om sy bevrydingstryd in Afrikaans te voer. Die oudburgemeester Herman Bailey ondersoek plaaslike regering in Suid-Afrika voor en ná apartheid.

Wat betref die sentrale tema van die boek, naamlik bruin mense se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans, ondersoek Ronel van Oort die faktore wat in die Kaap aan die werk was om mettertyd ’n nuwe taal op te lewer.

Fatima Allie herinner ons dat Afrikaans in die kombuise van die Kaapse Maleiers begin het wie se voorvaders Afrikaans gepraat het, al was hulle van Indonesië en Maleisië afkomstig. Willem Fransman skets die swart Afrikaanse skrywer se stryd teen marginalisering deur die oorwegend wit uitgewershuise en die moeisame pad wat die swart Afrikaanse skrywer moes loop om te publiseer. Nico Koopman herinner die leser dat Adam Small se skryfwerk ’n Afrikaans help ontwikkel het wat ons tereg as “Transformerende Afrikaans” kan beskryf. In my hoofstuk redeneer ek dat onderwys nog ’n lang pad het voordat leerlinge wat Kaaps praat, sal tuis voel in die Afrikaans-klas.

Ná die era van apartheid was dit tyd vir ’n bruin man om D.F. Malan se stoel te vul.

Ná die era van apartheid was dit tyd vir ’n bruin man om D.F. Malan se stoel te vul. In die afdeling oor die media deel Henry Jeffreys ’n paar interessante besluite wat hy uit dié stoel moes neem. Die oud- koerantredakteur Conrad Sidego fokus op die rol wat die Ekstra-koerante gespeel het om aan bruin mense ’n stem te gee toe stemreg van hulle weggeneem is in 1950.

Die invloed van die Ekstra-koerante vind ook neerslag in Le Cordeur se slothoofstuk: As wit en bruin Afrikaanssprekendes verskillende uitgawes van Die Burger gelees het (soos Conrad Sidego hierbo aandui), spreek dit vanself dat ons eintlik min van mekaar af weet.

Daar is dus ’n rede waarom ons hierdie boek uiteindelik op Versoeningsdag bekend gestel het. Daar is steeds ruimte vir die volle Afrikaanse gemeenskap om ’n gesprek te begin en die media durf nie langer hul versoeningsrol tussen die twee grootste Afrikaanse groepe onderskat nie.

Dr. Franklin Sonn skryf op die agterblad van die boek as volg: “Die gesprek oor Afrikaans en bruin mense wat die skrywers in hierdie boek aanroer, is tydig in die opsig dat ná al die ambivalensie oor die Afrikaans van ons hart en die onverkwiklike manier waarop ons in hierdie taal verdruk en misken is, ons ons vryheid gekry het. Dit bring ook die verantwoordelikheid mee om minstens onder mekaar klaarheid te vind oor wat nou vorentoe met ons taal moet gebeur.

“Hierdie boek is ’n aanduiding dat Afrikaans deel is van ons swart- en bruinwees, maar dat dit ons ook vasbind aan ons wit taalgenote.”

Myns insiens is die boek se grootste waarde dat dit die stigma dat bruin mense nie ’n stem het oor Afrikaans of ’n bydrae te lewer het tot Afrikaans nie, weerlê.

Die skrywers toon aan dat Afrikaans nie net die taal van apartheid was nie. Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening.

In die proses word nie net bruin mense se bydrae tot die totstandkoming van Afrikaans geboekstaaf nie, maar die skrywers wys telkens uit dat die bruin gemeenskap dikwels aan die voorpunt gestaan het in die stryd teen apartheid– en hulle het dit trots in Afrikaans gedoen.

Met hierdie boek slaag die skrywers daarin om veral bruin Afrikaanssprekendes se trots in hul taal te laat herleef!

Dit is geen geringe prestasie nie.

Dit bericht verscheen eerder op Netwerk 24
Bestelinformatie

Dit bericht is geplaatst in pas verschenen, recensies met de tags , , . Bookmark de permalink.