Het die klok begin lui vir Afrikaans?

Door Prof. Wannie Carstens, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. 
Taal is altyd gekoppel aan mense. Dit geld ook Afrikaanse mense, wat passievol oor hul taal is en aandring op die gebruik daarvan. Afrikaanse mense glo in die algemeen in moedertaalonderrig en in die reg om hul taal te mag gebruik. Afrikaanse mense weet ook die Grondwet gee hulle daardie reg en eis dit graag op. Pogings om Afrikaans te na te kom, lok daarom altyd reaksie uit. Vir Afrikaanse mense is hul universiteite van groot waarde, ook simbolies. Daarom praat Afrikaanse mense so graag saam oor die hoogste moontlike vlak waarop opleiding in hul taal gegee kan word.

Elke universiteit waar Afrikaans vroeër aangebied is, soos Kovsies, Maties, Tuks, Pukke, NWU-Puk, UJ, UWK en Unisa, het ’n eie oplossing vir die hanteer van die posisie waarin hulle tans is.
Die drastiese agteruitgang van Afrikaans aan die UJ (wat in 1967 as die Randse Afrikaanse Universiteit tot stand gekom het) is nie ’n mooi storie nie. Ons moet daaruit leer wat verkeerd kan gaan as daar met die voete gestem word.

Die stadige insluip van Engels by universiteite is opvallend. Aanvanklik (1994-2000) was dit subtiel en daar was selfs ruimte vir tale waaraan daar ’n behoefte as onderrigmedium by universiteite was, maar ná die samesmeltingsproses van 2004 het die klimaat verander. En uit die jongste uitsprake uit regeringskringe lyk dit asof die agenda duidelik is: Word ware Suid-Afrikaanse universiteite en nie meer taalgefokusde universiteite nie. Dus is Engels die gemene deler en Afrikaans, of Zoeloe ensovoorts moet nie die pret kom bederf nie.

Die onderliggende boodskap is: Nasiebou en sosiale samehang kan net bereik word deur Engels. Hoe verkeerd kan ’n mens nie wees nie! Die omgekeerde is eerder waar: Die erken van die ander tale en die respek wat hulle kry, gaan nasiebou en sosiale kohesie bewerkstellig.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, se onlangse uitsprake is tekenend van ’n ideologies-gedrewe agenda (universiteite moet naamlik ook die rassedemografie in die land weerspieël). Nzimande sê telkens hy het niks teen Afrikaans nie (en kom ons glo hom), maar in die proses word die ontwikkeling van agtergeblewe Afrika-tale nog verder benadeel.

Wat dan van die natuurlike diversiteit waaroor so hoog opgegee word? En wat van die ander tale? Word sommer net aangeneem dat die Afrika-tale nie ook mediums van onderrig aan tersiêre instellings wil wees nie?

Die tendense om die skuif na Engels (en weg van diversiteit) te illustreer, het na vore gekom uit die statistieke oor taalgebruik aan universiteite. Aanvanklik was Tuks, Puk, Kovsies, RAU en Maties sogenaamde “Afrikaanse kampusse”, maar die prentjie het in 20 jaar drasties verander.

  • Tuks is nie meer oorwegend Afrikaans nie, maar bied Afrikaanssprekendes steeds ’n verwelkomende omgewing.
  • Die ou RAU het die UJ geword en daar is min Afrikaanssprekende studente oor.
  • Aan Maties word Afrikaans in meertalige verband aangebied naas Engels. Afrikaanssprekendes het ook hier ’n vriendelike omgewing.
  • By Kovsies oorheers ’n parallelmediumbeleid en dit lyk asof Afrikaans se rol al hoe meer afgeskaal word.
  • Op die NWU se Potchefstroomkampus geld Afrikaans tans nog as die primêre voorgraadse onderrigtaal, maar daar is groot druk uit regeringsgeledere om Engels groter vastrapplek te gee. Hier maak opvoedkundige tolking wel die praktiese bestuur van meertaligheid moontlik.
  • Die NMMU, die UWK, Wits, UKZN, Unisa, UK, en ander is oorwegend Engels. Vir Afrikaans en van die Afrika-tale is daar wel by van die universiteite (simboliese) ruimte.

Dit blyk ook die Afrikaanse gemeenskap “stem met hul voete” en gaan graag na Maties en die NWU-Puk. Dit blyk uit die statistieke dat al hoe minder Afrikaanssprekende studente na Tukkies en Kovsies gaan. Dit lyk asof die UJ vir Afrikaanssprekendes van die radar af verdwyn het. Die Afrikaanse mark is dus ’n nismark, ’n mark wat verwag dat hul Afrikaanse behoeftes ook ’n plek kry aan hierdie universiteite. En as dit nie gebeur nie, dan gaan hulle elders.

Daar is egter praktiese faktore wat inwerk op universiteite se Afrikaanse karakter. Nasionaal en internasionaal is daar ’n swaai na Engels as taal van tersiêre gebruik. In verskeie Europese lande (soos in Nederland, Denemarke, Noorweë) is daar skuiwe opmerkbaar in hierdie verband. Dit word in Suid-Afrika aangehelp deur ’n verskeidenheid faktore: politiek (baie sterk! – die ANC word sterk gedryf deur ideologie en die fokus op regstelling en verteenwoordiging), geld (die land se beursie is ook maar net so dik), demografie (wat aan die verskuif is, ook onder Afrikaanssprekendes), leierskap aan universiteite (die gevaar van leierskap wat gekoppel is aan een persoon). Wat doen ’n mens daarmee?

Leierskorpse oor taalsake aan universiteite is van kardinale belang. Is ons leiers in staat om hierdie leiding te gee?

Oplossings waarmee universiteite in die verlede na vore gekom het, word nie waardeer nie of selfs gering geskat. Universiteitsleiers betwyfel selfs intern tolking as bewese getoetste en nagevorste oplossing vir die bestuur van meertaligheid, soos aan die NWU-Puk. Universiteitsbesture se dilemma is ook ’n tekort aan geld om taalprobleme te pak op kampusse. Universiteite kry te min geld uit subsidies om meertaligheid op hul kampusse te kan bestuur. Dit is hoekom daar telkens korttermynoplossings gesoek word.

Die gevoel by sommige is dat daar juis nie geld beskikbaar gestel word nie om die verengelsingsproses te verhaas. Of dit waar is, weet ons nie, maar dis wel ’n persepsie.

Het die klok dus begin lui vir Afrikaans of nie? Ek glo nie so nie, maar dat ons op ons hoede moet wees, is duidelik. Daar moet ’n strategie wees om die probleem van die oomblik die hoof te bied. In dié verband moet ons aanvaar dat sekere universiteite klaar hul voorkeurtaal gekies het. Daaraan kan ons niks doen nie.

Rakende Afrikaans en die ander Afrika-tale is die volgende voorwaardes wel van belang:

  • Universiteite moet saamwerk om ’n oplossing vir meertaligheid op kampusse te kry. Daar is genoeg kundigheid;
  • Ons moet vooraf weet: Die enigste werklike oplossing is ’n politieke oplossing. Daar moet beplan word om dit saam te pak;
  • Ons moet vooraf weet dat die enigste oplossing vir Afrikaans (en die ander Afrika-tale) binne ’n meertalige konteks lê;
  • Afrikaans en ras mag nie gemeng word nie;
  • Die saak van Afrikaans moet nie in isolasie gesien word nie. Die ander tale móét betrek word by die proses om ’n oplossing te kry. Dis nie net ’n Afrikaans-probleem nie, maar eerder ’n taalprobleem in die lig van ideologiese stiksienigheid; en
  • Leierskorpse oor taalsake aan universiteite is van kardinale belang. Is ons leiers in staat om hierdie leiding te gee?

Die Akademie gaan die proses vorentoe bestuur sodat ’n strategie ontwikkel kan word om aan hierdie voorwaardes gehoor te gee. Die georganiseerde Afrikaanse gemeenskap het die Akademie die mandaat gegee om die proses namens hulle te bestuur.

Die saak sal die volle aandag kry. Ons taal is te kosbaar om funksies daarvan prys te gee.

Dit artikel verscheen eerder in Beeld
Dit bericht is geplaatst in geen categorie met de tags , , , . Bookmark de permalink.