Afrikaans as taal aan universiteite in Suid-Afrika: probleem of oplossing?


Door Prof. Wannie Carstens
Voorsitter SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Direkteur Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
Dit artikel verscheen eerder in Rapport, So. 8 Junie 2014.

Bestuur eerder die taal beter

Wat is die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se standpunt oor Afrikaans as universiteitstaal? vra iemand my onlangs. 
My antwoord was dat dit een van die hoofredes van die Akademie se bestaan is: die bevordering van Afrikaans as taal van die wetenskap in Suid-Afrika, en dat die universiteite vanselfsprekend ʼn kernrol hierin speel. Meer as dit hoef ons sekerlik nie te sê nie. Of hoe?
Hierdeur sê die Akademie – weliswaar implisiet – dat ons ernstig is oor Afrikaans as taal van wetenskapsbeoefening aan universiteite. Sonder universiteite kan die wetenskap eintlik nie gedien word nie. Dit is egter te indirek om dit so te doen, en ons sal ons standpunt helderder moet formuleer. Daarom dan hierdie artikel as ʼn poging om hierdie saak beter te verwoord.

Afrikaanse universiteite?

In die bedeling voor 1994 was Afrikaans die medium van onderrig aan ʼn hele paar universiteite in Suid-Afrika. Die volgende universiteite het selfs bekend gestaan as die histories ‘Afrikaanse universiteite’: Pretoria, Stellenbosch, Vrystaat, die PU vir CHO, die RAU (Randse Afrikaanse Universiteit), selfs UNISA. Studente het na hierdie universiteite gegaan en daar hulle onderrig oorwegend in Afrikaans gekry.  Op hierdie wyse is honderdduisende studente oor die jare opgelei – en hierdie studente het telkens ʼn bydrae gelewer tot die welsyn van Suid-Afrika. En dit in Afrikaans. Hierdie mense kon ook maklik in Engels funksioneer daar waar dit nodig was. Maar hulle is in Afrikaans opgelei.
In die twintig jaar sedert 1994 het hierdie prentjie drasties verander: Afrikaans word nog as onderrigmedium gebruik aan die UV (wel in ʼn parallelmediumverband), RAU het UJ geword (Afrikaans is in die praktyk nie meer ʼn kerntaal daar nie en die Afrikaanssprekende studente het beduidend afgeneem), Pretoria volg oorwegend ʼn parallelmodel en maak hierdeur voorsiening vir beide Afrikaans en Engels, die voormalige PU vir CHO het die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit geword en binne hierdie universiteit se beleid van funksionele meertaligheid maak die Potchefstroomkampus voorsiening vir voorgraadse Afrikaansmediumonderrig. 
Op Stellenbosch word ʼn ietwat gekompliseerde taalbeleid gevolg waar daar wel voorsiening gemaak word vir Afrikaanssprekende studente om hulle kursusse in Afrikaans te kan volg. Die verwyte wat Stellenbosch so gereeld toegeslinger word as dat dit Afrikaans sou versaak, moet die owerhede daar oorreed om dalk beter te kommunikeer wat wél vir Afrikaans aan die US gedoen word.
Wat kom hieruit na vore? ʼn Poging om binne die meertalige kultuur van die land en die sektor voorsiening te maak vir Afrikaanse én Engelse studente, maar ook toegang te vergemaklik vir diegene wat nie Afrikaans kan hanteer nie. Die dilemma hiermee is dat hierdie universiteite nog vis nog vlees word: Engels vir toegang en ter wille van politieke korrektheid (want die regering dring aan op toegang en Engels skyn die taal van toegang te wees vir almal – en dit word so aanvaar sonder teenspraak omdat ons nie die regering wil kwaad maak nie) en Afrikaans waar dit moontlik is en daar ʼn mark daarvoor is. In hierdie proses word Engels al weer voorgetrek en Afrikaans se rol onderspeel – want “ons moet tog nie die regering vervreem nie”. 
Die interessantste is dat hierdie patroon net geld vir die voormalige histories Afrikaanse universiteite. Die Engelsmediumuniversiteite (Wits, UK, UKZN, UWK, KSUT, UFH, Limpopo, NMMU, UniZul, UniVen, Rhodes, e.a.) spring hierdie druk vry. Hulle hoef nie toegang vir Afrikaanse studente moontlik te maak nie. Hulle hoef nie tolking te oorweeg as ʼn toegangsopsie nie (soos US, die NWU-PUK, UV), en die meerderheid van hulle doen bitter min vir die bevordering van die Afrikatale – maar van US, UP, NWU-PUK, UJ, e.a. word dit weer verwag. Wat sê hierdie boodskap? Waarskynlik dat alles in orde is as jy Engels gebruik (ongeag die feit dat duisende studente dit swak verstaan en swak gebruik), maar dat alles nie in orde is nie as jy Afrikaans wil gebruik.

Waarom universiteite met Afrikaans as onderrigtaal?

Dit is vreemd om hierdie vraag selfs net te vra omdat die reg van onderrig in jou eie taal tog in die Grondwet erken word (soos vervat in artikels 29 en 30 van die Grondwet). Maar in die praktyk het Afrikaans die probleem geword. Hoekom? Omdat Afrikaanse mense oorwegend verkies om in Afrikaans onderrig te word en dat hulle daarom stemming maak vir ‘Afrikaanse universiteite’. 
In die lig van die Grondwet is die aandrang dat universiteite vir almal wat kwalifiseer, toeganklik gemaak moet word. In die praktyk beteken dit dat universiteite oorwegend Engels (moet) word, want Afrikaans word deur baie nie as ʼn taal van toegang beskou nie. Die neiging tot verengelsing word ontken, maar die samesmeltings van die vroeg 2000’s het min van die historiese Afrikaanse universiteite ongeskonde gelaat. 
Afrikaanssprekendes stem egter met hulle voete en vandaar die toestroom van Afrikaanssprekende studente na die universiteite wat voorsiening maak vir onderrig in Afrikaans: Stellenbosch en die Potchefstroomkampus van die NWU. Ja, daar gaan ook heelwat Afrikaanse studente van die UV en na UP, maar uit inskrywingstatistiek blyk dit dat hulle al hoe minder word. In die toekoms gaan dit waarskynlik nog minder word, ook omdat die Afrikaanse demografie aan die verander is en gesinne kleiner word. 
Op die lang termyn gaan daar dan minder Afrikaanse kinders wees met as gevolg ʼn kleiner aanvraag vir kampusse wat Afrikaans aanbied. En onthou, Afrikaanse ouers stuur ook so maklik hulle kinders na Engelse skole. Soos prof Hans du Plessis by geleentheid gesê: Afrikaans se grootste vyand is die Afrikaanssprekendes.
Afrikaans is dus onder druk van sy eie mense, maar ook van diegene wat ʼn ander bedeling wil hê.

Wat kan ons doen?

Afrikaans het weens van sy sprekers se optredes in die verlede ʼn negatiewe konnotasie. Of ons nou daarvan hou of nie, dit is ʼn feit. Ons moet leer om hierdie feit te bestuur en ons as Afrikaanssprekendes onmisbaar te maak in die land. Hoe doen ons dit?
·         Ons moet persepsies oor Afrikaans én sy sprekers besweer.
·         Ons moet die boodskap oordra dat Afrikaans vir ons kosbaar is en dat ons gaan volhou om ons deel vir hierdie land in Afrikaans te doen.
·         Mense verstaan nie altyd ons gehegtheid aan ons taal en ons kultuur nie – kom ons maak dit dan moontlik dat ons verstaan word.
·         Ons gehegtheid aan ons taal beteken nie dat ons ander uitsluit by ons onderriginstellings nie. Juis nie. Dit is Afrikaanssprekendes op Potchefstroom wat met die kreatiewe oplossing van opvoedkundige tolking na vore gekom het. Dit is Afrikaanssprekendes wat tolking aan die US ingevoer het.
·         Moedertaalonderrig is nog steeds die beste manier van onderrig. En dit geld enige taal, nie net vir Afrikaans nie   
·         Ons is nie vyandig teenoor Engels nie – dit sou dom wees in die lig van Engels se internasionale gebruikspotensiaal.
·         Afrikaanse mense is per definisie reeds meertalige mense: ons kan Afrikaans én Engels praat!
·         Universiteite wat vir Afrikaans voorsiening maak, vul gewoon ʼn nis in die mark: studente wat in Afrikaans wil studeer en ook hulle rekeninge kan betaal.
·         Universiteite wat voorsiening maak vir Afrikaanse studente, moet dit wat hulle doen en ook goed doen, beter kommunikeer.
·         Afrikaans belemmer nie transformasie nie.  Op kampusse soos aan US en Potchefstroom word Engels ook aangebied, en met die hulp van tolking word Afrikatale ook bevorder.
·         Ons durf nie aggressief oor Afrikaans wees nie. Ons Afrikaanse menswees is nie so nie. Laat ons ander oorrompel deur wat ons doen om hierdie land te laat werk.
·         Ons sal tale in hierdie land in ʼn meertalige konteks moet bestuur. Maak vrede daarmee. 
Dus: Afrikaans is nie die probleem by universiteite nie. Afrikaans se kreatiwiteit en die kundigheid van die Afrikaanse mense maak Afrikaans juis deel van die oplossing. Ons het wel nog oorredingswerk om te doen, maar kom ons doen dit met passie en entoesiasme. Ons is mos hier om te bly – ons gaan regtig nêrens nie. 
Wat is nou die Akademie se standpunt oor Afrikaans en universiteite? Dat ons glo in die reg van Afrikaanssprekendes om hulle opleiding in Afrikaans – hulle moedertaal – te ontvang en dat ons alles in ons vermoë sal doen om op rasionale wyse die land en ons bewindhebbers hiervan te oortuig.  
3 Junie 2014
Dit bericht is geplaatst in geen categorie met de tags , . Bookmark de permalink.