Plak vas jou vlerkies, maak jou bolla* los

en bring jou harp na Stellenbosch

Door Jana Luther

Dié uitnodiging rig Zandra Bezuidenhout in haar gedig vir vanjaar se Stellenbosse Woordfees: “Woordfeeshemel 2013”.

In Suid-Afrika vind daar jaarliks seker ’n stuk of twintig Afrikaanse kunstefeeste plaas: Einde Januarie, vroeg Februarie is dit tyd vir die Suidoosterfees in Kaapstad. Einde Maart, begin April lok die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (die KKNK) op Oudtshoorn besoekers van heinde en ver. In Julie hou Bloemfontein sy Vryfees. Einde September is dit tyd vir die Aardklop-fees op Potchefstroom. Tussenin is daar talle kleiner feeste. Maar vir wie ook al in die Afrikaanse letterkunde, die Afrikaanse woord, belang stel, is die Woordfees – in die eerste week van Maart in Stellenbosch se eikelane – ’n stukkie hemel op aarde.

Afrikaans se Woordfees volg die voorbeeld van Nederlandse en Vlaamse feeste. Die eerste Woordfees, in 2000, het “Nag van passie” geheet, in navolging van die “Nacht van de poëzie”. Sedertdien het die samekoms van duisend feesgangers in daardie eerste jaar tot ongeveer 90 000 besoekers verlede jaar gegroei. Vanjaar is die tema, heel gepas, “Hemels”.

Op die program pryk meer as 400 items. Dis ’n fees van skrywers en boeke, visuele kuns, musiek- en teaterproduksies, gesprekke van allerlei aard … ook van Kaapse gasvryheid, kos en wyn en gesellige samesyn – in Afrikaans in al sy variëteite.

Woorde open wêrelde en soos elke jaar kry die fees ook besoek uit Nederland en België: Stef Bos, ’n ou gunsteling, tree op 7 Maart op. Op 8 Maart tree Ingrid Glorie, redakteur van Maandblad Zuid-Afrika, in gesprek met die Vlaamse skryfster, video- en visuele kunstenaar Saskia de Coster. Op 9 Maart word die jaarlikse Neerlandistiekdag op ’n Stellenbosse wynplaas gehou. Hier sal studente met De Coster en Nederland se Arjen Duinker oor hulle skryfwerk gesels. Hans Geybels kom praat oor religie en kuns; Bart de Graaff oor sy boek Nederlandse plekname in Suid-Afrika; Rentia Bartlett oor deBuren se luisterboek-projek en Fred de Vries oor sy boek Rigtingbedonnerd.

In “Nederkaans en Afrilands”, ook op 9 Maart, val die kollig op die Nederlandse digter Alfred Schaffer, wat deesdae in Suid-Afrika woon en werk as dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Kom in, dit vries daar buite is ’n keur van 50 van Schaffer se gedigte wat deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is. Antjie Krog, Ronelda Kamfer en Danie Marais sal saam met die digter van dié verse voorlees.

Op die Woordfeesblog skryf Stephanie Niewoudt oor “Die Onweerstaanbaarheid van Afrikaans vir Nederlanders”. In kommentaar hierop skryf ene Frik van Eden dat Nederlanders gewoonlik lag as hy met hulle Afrikaans praat; dat Nederlanders Afrikaans vermaaklik vind, ’n soort “kindere Hollands”.

Onweerstaanbaar? Vermaaklik? Miskien is dit beide. Miskien nóg die een nóg die ander. Maar voortdurend bly ek my bewus van die wedersydse aangetrokkenheid.

Reis en verblyf en Woordfeeskaartjies is duur. Dus kom u moontlik nie vanjaar nie. Dalk ook nie volgende jaar nie. Maar een maal móét u tog kom! (Ek hoop u kies Maart 2015, wanneer ons, as ons die lewe hou, die vyftigse bestaansjaar en ’n nuwe, sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal by die Woordfees op Stellenbosch gaan vier.)

____________________________
*bolla – knoedel, tot

Dit bericht is geplaatst in geen categorie met de tags , , . Bookmark de permalink.