Anders maar éénders

Vanaand is die Nederlandse sanger Stef Bos, wat met ’n Afrikaanse vrou getroud is en ses maande van die jaar in Kaapstad woon (aan die voet van Tafelberg, toevallig in dieselfde straat as ek), te sien in die voorlaaste aflewering van die Nederlandse TV-reeks Dat is andere taal!

Op die Afrikaanse poësiewerf Versindaba vertel Bos van sy verhouding met Suid-Afrika en sy liefde vir taal: Vir Nederlands met sy mooi streeksvariëteite, waarin hy hom so persoonlik en met soveel gevoel kan uitdruk. En vir Afrikaans, wat hom die kans bied om sy “eigen taal tegen het licht te houden, het aan te vullen met nieuwe woorden en uitdrukkingen. Het is net alsof je weer verliefd wordt op je eigen vrouw en je jezelf weer realiseert hoe leuk zij eigenlijk is”. Aan Kaapstadmagazine sê hy: “Ik vind Afrikaans een intrigerende taal. Sowieso is het voor mij, als Nederlander in Vlaanderen en Zuid-Afrika erg bijzonder om te zien in hoeveel verschijningvormen mijn taal zich openbaart.”

Vir my, as moedertaalspreker van Afrikaans, is dit lekker om Stef Bos so te hoor praat. Want so, presies net so, voel ek oor Nederlands. Daarom was ek bly toe die Afrikaanse digter-skryfster Carina Stander – gister, pas nadat ek weer oor Bos gaan lees – in ’n plasing op Facebook hierby aansluit.

Stander se debuutroman, Wildvreemd, is pas in Nederlands vertaal, deur Riet de Jong-Goossens. Oor die voltooide vertaling skryf Stander dat dit heerlik vloeiend lees, dat sy veel plesier het aan eg Nederlandse uitdrukkings en woorde: “Telkens het dit vir my gevoel asof ek my verhaal deur die ander taal herontdek,” eggo sy Bos se woorde.

Op die sosiale netwerk Twitter verlustig ek my die afgelope vyf, ses maande in tientalle Nederlanders se belangstelling in (veral hul eie) taal, tot so ’n mate dat ek nie anders kan nie as om in ’n e-pos aan die taaljoernalis Gaston Dorren, skrywer van onder meer die fassinerende boek Taaltoerisme, op te merk: Hoe loof ek julle nie vir – en beny ek julle nie! – die lewendigheid van die Nederlandse taalkultuur nie. Ek wens Afrikaans het dit gehad.

Dorren beaam my waarneming: “Om de een of andere reden,” skryf hy terug, “is de belangstelling van Nederlanders voor hun taal extreem. De vertaalster van Taaltoerisme, Alison Edwards, […] verbaast zich daar telkens weer over. De Scandinaviërs hebben het ook een beetje, maar in Zuid- en Oost-Europa is dat veel minder, en zelfs de Britten kunnen er niet aan tippen.”

Dan stel Dorren my tog ’n bietjie teleur, soos die meeste Nederlanders met wie ek in aanraking kom gewoonlik maar doen, dus neem ek hom dit nie kwalik nie:

Wanneer ek, wat woordeboekmaker is, maar nie Nederlands kan praat of skryf nie, Afrikaans en Nederlands met mekaar vergelyk, is die twee tale vir my altyd anders tog éénders. Ek lees en ek luister, en ek voel immer die naelstring tussen ons roer.
Wanneer Nederlanders wat nie Afrikaans kan praat of skryf nie, Afrikaans en Nederlands vergelyk, kry ek egter altyd die indruk, is dit ’n geval van eenders tog ánders; die naelstring geknip. Dorren “beschouw het Nederlands en het Afrikaans als net zo’n koppel als Noors (Bokmålvooral) en Deens: twee standaards, duidelijke verschillen, maar wederzijds met een beetje goede wil uitstekend te begrijpen”.

Hoe ook al. Halfvol; halfleeg. Dit kom nie daarop aan nie. Dat Afrikaans en Nederlands – ná 360 jaar – steeds wedersyds met ’n bietjie goeie wil uitstekend te begryp is, dis wat tel. Want wat ís ’n taal per slot van rekening?

Nederlands: “Een verzameling woorden en een grammatica. Los van de mensen met hun hoofden waarin die woorden onthouden worden en hersencellen en lichamen die de grammaticaregels uitvoeren om klanken te produceren en te ontcijferen, bestaan talen natuurlijk helemaal niet,” skryf Marc van Oostendorp in Steenkolen-Engels. “Een werkelijk bestaan hebben alleen u en ik, mensen van vlees en bloed. Ieder mens heeft, zou je kunnen zeggen, een eigen taalrepertoire, een arsenaal aan woorden en aan grammaticale regels en gespreksconventies die hij zich heft eigengemaakt in de loop van zijn leven. Dat taalrepertoire is waarschijnlijk precies even onderscheidend voor een individu als een vingerafdruk: niemand heeft precies dezelfde woordenschat en precies dezelfde grammaticale constructies in zijn repertoire als iemand anders.

En Afrikaans: ’n Versameling woorde en ’n grammatika. Los van die mense met hul koppe waarin die woorde onthou word en breinselle en liggame wat die grammatikareëls uitvoer om klanke te produseer en te ontsyfer, bestaan tale natuurlik glad nie. […] ’n Werklike bestaan het alleen u en ek, mense van vlees en bloed. Elke mens het, sou jy kon sê, ’n eie taalrepertorium, ’n arsenaal van woorde en grammatikale reëls en gesprekskonvensies wat hy tot sy eie gemaak het in die loop van sy lewe. Daardie taalrepertorium is waarskynlik net so onderskeidend vir ’n individu as ’n vingerafdruk: niemand het presies dieselfde woordeskat en presies dieselfde grammatikale konstruksies in sy repertorium as iemand anders nie.

Eenders maar ánders?
Anders maar éénders?

Langs mekaar beskou, is Nederlands en Afrikaans onmiskenbaar en onlosmaaklik deel van één laslapdeken wat behoort aan álmal wat dit liefhet.

Die Afrikaanse skryfster Marita van der Vyver, wat al langer as ’n dekade op die Franse platteland woon, sê in ’n onderhoud: “Ek dink dikwels aan daardie Duitse gesegde oor soveel tale jy ken, soveel keer is jy mens. Dit voel of ek dubbel die mens is wat ek voorheen was vandat ek in Frankryk ’n nuwe taal, kultuur en verwysingswêreld moes leer ken. Dis ’n proses wat gepaardgaan met intense frustrasie en irritasie en oomblikke van wanhoop oor ek steeds nie weet wanneer om le of la voor meeste woorde te gebruik nie – maar dis onbeskryflik verrykend, verrassend, opwindend.”

In die jare tagtig van die vorige eeu is kontak tussen Afrikaans en Nederlands beëindig. In die nuwe millennium het Nederlandse belangstelling in die Afrikaanse kultuur weer opgeflikker, maar die paadjie tussen Afrikaans en Nederlands het toegegroei en toegerank. Gans te min Afrikaanssprekendes loop vandag nog daarlangs. Net soos Afrikaans vir gans te veel Nederlandse en Vlaamse burgers op voetsoolvlak vandag ver, ver weg is.

Dit hoef nie so te bly nie. Nuwe kommunikasieweë maak kontak tussen individue en groepe wat belange en belangstellings deel, vandag al hoe makliker. Wie dit snap, gaan soek – en vind – mekaar op Twitter, Facebook, Google … Op sosiale netwerke plaas ons skakels na alles en nog wat. Via Twitter lei ’n pad na ’n sfeer van blogs wat toegang bied tot akademiese navorsing, verslae, artikels … Kom ons lees, verken mekaar se wêrelde, knoop geselsies aan, kommunikeer direk, in reële tyd; vorm gemeenskappe oor en sonder grense; help mekaar om inligting te vind en te ontsluit.

Dit laat my nou dink aan dié Suid-Afrikaanse appeldrankadvertensie. Met ’n klein bietjie inspanning deur beide partye gebeur met sprekers van Afrikaans en Nederlands dalk nog iets soortgelyks. Wie weet?

Dit bericht is geplaatst in geen categorie met de tags , , . Bookmark de permalink.

4 reacties op Anders maar éénders

  1. Ingmar schreef:

    Beste Jana, ek het nie baie goed verstaan nie waarom Gaston Dorren jou 'n bietjie het teleur gestel deur sy uitsprake.

  2. Jana Luther schreef:

    Beste Ingmar, dit was sommer 'n skertsende opmerking, wat. Omdat ek, persoonlik, Afrikaans nog maar altyd as 'n onderdeel van Nederlands beskou (as eie familie), terwyl Afrikaans en Nederlands vir Gaston twee verwante, maar tog heeltemal aparte tale is (dus verder van mekaar verwyder, met 'n groter afstand tussen ons, as wat ek dit aanvoel en ervaar).

  3. Ingmar schreef:

    Alright, dus so het jy dit bedoel. Maar wat Gaston ook beweer is dat Noors en Deens twee verwante tale in twee verskillende lande is, en die Noorse taal kom uit die Deense, dus eientlik is daar wel baie ooreenkomste met die verwantskaptoestand van Afrikaans en Nederlands

    Ek is nie so goed in Afrikaans nie, ek vorm my Nederlands slegs om na hoe ek glo dat Afrikaans sal wees, maar ek is ook bang vir foute.

  4. Petrander schreef:

    Als iemand die in Denemarken woont, vloeiend Deens spreekt en regelmatig voor mijn werk met Noren in aanraking komt, en bovendien mij voor het Afrikaans interesseer, kan ik misschien wel een duitje in het zakje doen, wat betreft de vergelijking Deens-Noors(Bokmål) en Nederlands-Afrikaans.

    Op zich gaat de vergelijking op veel punten goed op: Hier is er sprake van twee sterk op elkaar lijkende talen met een gemeenschappelijke oorsprong. Het Noorse Bokmål stamt af van het Deens dat in Noorwegen door inheemse Noren werd gesproken, dat net als het Afrikaans is verheven tot zijn eigen landstaal. Er zijn, net als tussen Afrikaans en Nederlands, verschillen in uitspraak en grammatica. Net als het Afrikaans leeft het Noors in zijn eigen taalwereld, met zijn eigen tijdschriften, boeken en andere media.

    Qua uitspraak ligt Noors verder van Deens dan Afrikaans van Nederlands. Wat grammatica ligt dat weer andersom.

    Net als Jana Luther is het mijn grootste wens om Afrikaans weer in te laten sluiten in de Nederlandse familie. Maar ik kan er niet omheen dat het mis ging toen het Afrikaans begin 20e eeuw zijn eigen weg ging. En ik kan maar niet de lijm vinden om de scherven weer aan mekaar te krijgen.

Reacties zijn gesloten.